‘n Generasie van
SELFIES
Tien jaar gelede het niemand geweet wat is ‘n “SELFIE” nie. Die jaar 2013
staan bekend as die jaar van die “selfie”. ‘n “Selfie” is ‘n tipe self-portret
foto, wat gewoonlik met ‘n kamerafoon geneem word. Moderne selfone het deesdae
almal twee kamera – lense, een om objekte af te neem en ander kamera om jouself
af te neem. Laasgenoemde se kameralens is gewoonlik aan die voorkant van jou
foon. Natuurlik kan dit ook vir video –gesprekke gebruik word
Ek het onlangs op ‘n E – kerk publikasie van Dries Cronje, Pierre
Engelbrecht, Stephan Joubert en ander
skrywers die volgende insiggewende feite raak gelees.
Die word “selfie” is die eerste keer
op 13 September 2002 gebruik in die ABC Online forum in Australië. Die hashtag#
selfie het populêr geraak op al die sosiale media platforms. Sederdien het die
“selfie” die internet oorgeneem. ‘n Onlangse verskynsels is waar dames mekaar
uitgedaag het of Facebook om “selfies” te neem sonder enige grimering, ten bate
van borskanker. So ontstaan aanlyn speletjies met “selfies”. In “datingklubs”
en pornokringe vind ‘n mens natuurlik die ergste vorme van die gebruik
“selfies”. Daar was in die onlangse verlede ook die Selfie Olimpiese Spele op
Twitter. Feitlik daagliks is die sosiale
media oorstroom met fotos wat mense van hulself geneem het. Op die Instagram is
die gebruik van “selfies” ook hoog op die lys.
Dit is ‘n verskuiwing wat plaasgevind het, waarmee ons in feitlik al die
vakrigtings van kennis moet neem. Dit
kan nie maar net ontken word nie. Ons moet daarvan kennis neem om te kan
kommunikeer met mense.
Die tydperk van “selfies” laat baie rooi ligte flikker. Mense kry ‘n gevoel
van selfbewustheid, selfbelangrikheid, eie ego en die skepping van ‘n “image”
wat dikwels nie ‘n getroue weergawe van jouself is nie. In “selfies” deel mense
hulle persoonlike ervaringe met ander. Die deel van die “ervaring” word selfs
belangriker as die ervaring self. Mense is so besig om die ervaring te deel,
dat die genot van die ervaring daarmee heen is. Mense kan nie meer “in the
moment” wees nie, hulle moet altyd deel en kommunikeer. “Selfies” kan ook ‘n
element van spog en hoogmoed ontwikkel by gereelde gebruik daarvan. Fisiese
voorkoms en nie innerlike lewenskwaliteite word ten toon gestel.
“Selfies” maak die mens meer en meer selfgesentreerd, dat die mens dikwels
die middelpunt van alles word. Dit veroorsaak dat God, medemens en omgewing
dikwels uitgerangeer word. Die beheptheid met die self het ‘n algehele
hoogtepunt bereik. My behoeftes, my ideale, my gemak, my beeld, my gerief en my
belangrikheid word sentraal.
Nuwere ontwikkeling wat ek raakgelees het is dat “Mirror – selfies” nou ook
in die mode kom, waar mense fotos van hulself in ‘n spieël neem. Dit word selfs
in die kunste gebruik en selfs in die kommersiële wêreld .
Ons het van ‘n tegniese rewolusie oorgegaan na die inligtingsrewolusie.
Groot korporatiewe maatskappye het nie meer alleen beheer oor inligting nie.
Enige indiwidu kan vandag gehoor en gesien word op die internet. “Selfies” wat
goed gedoen is of uitdagend of seksueel van aard is kan binne minute die hele
wêreld vol wees. Die “selfie” generasie het dit minder erg aan privaatheid en
is nie skaam om persoonlike goed vir die wêreld te vertel nie. Daarom kry ‘n
mens dat mense vandag tot in detail sal vertel oor hulle lewe op Facebook en
selfs vuilwasgoed sal was op Facebook. Natuurlik ken ons die aaklike bekgevegte
wat tussen mense ook plaasvind op die soaiale media. Die “spot” element om die
ander te verneder kom ook daagliks voor.
Natuurlik is “selfies” opsigself nie negatief of boos nie. Mense kan deel
waaroor hulle passievol is. Mense kan konnekteer en bande behou. Mense kan met
groot groepe mense op een slag kommunikeer. Mense kan bewustheid vir goeie sake
bevorder. Daarom moet ons nie die baba, saam met die badwater uitgooi nie.
Positief kan ons leer uit die “selfie” fenomeen, dat mense eerstens ‘n behoefte het om te deel. Mense wil hulle
ervaringe met ander mense deel. Daarom sal ons juis in die kerk ‘n ruimte moet
skep waar mense hulle ervaringe, ook geloofservaringe kan deel met ander. Die tweede behoefte wat geidentifiseer kan word
is dat mense dikwels ‘n gevoel van eensaamheid het. Die neem van ‘n
“selfie”, plaas jou in die gesprekslyn op die sosiale media en verlig jou
eensaamheid. Die vraag is of die kerk genoeg ingestel is om die eensaamheid van
mense aan te spreek. Dit is mos juis een van die kernidentiteite en
geloofswaarhede van die kerk, naamlik: “Ons glo in die gemeenskap van
gelowiges”
Ons as kerk moet ook leer om ‘n digitale teenwoordigheid te hê in ‘n
digitale wêreld. Ons kan nie meer kerk wees soos 20 jaar terug nie. Natuurlik
moet ons via die digitale media gebruikers aanmoedig om te fokus op ander en op
die ekologie. Die positiewe gebruik van digitale media kan niemand ontken nie.
Dit is hier om te bly. Ons moet dit net reg bestuur tot eer van God. Daarvoor
moet elkeen van ons self verantwoordelikheid neem, wanneer hy of sy die “ENTER”
knoppie druk. Dit vertel meer van jou as enigiets anders.
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die
NG Kerk Adelaide)
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking