KAIROS TYD IS
GOD SE TYD
Waarom talm
God so? Waarom vat God sy eie tyd? Waarom werk God nie haastiger? In 'n wêreld
gekenmerk deur lyding word die vraag gereeld gevra deur gelowiges en
ongelowiges. Deel van die antwoord is dalk om te kyk na die onderskeiding van
die gebruik van die volgende twee Griekse woorde “chronos” en “kairos”.
“Chronos is soos horlosietyd, 24 ure in 'n dag, 60 minute in 'n uur en 60
sekondes in 'n minuut. Ons gebruik “chronos” tyd om ons dag te beplan of om
afsprake te bevestig. “Kairos” tyd beteken die volmaakte oomblik op die regte
tyd en regte plek. Dit is die volmaakte regte oomblik soos wat 'n foto op
presies die regte oomblik geneem word.
“Kairos” tyd is die spesifieke oomblik wat alles tegelyk gebeur. Wanneer
verskillende gebeurtenisse en omstandighede vir daardie oomblik bymekaar
uitkom. Dit kan natuurlik 'n goeie of 'n slegte uitkoms wees. Ons as gelowiges
glo dat God die goeie en die slegte goed wat met ons gebeur, alles vir ons ten
goede laat meewerk. Die meeste wonderwerke is “kairos” momente. Daarom praat
ons as gelowiges nie van “toevallig” nie, maar van “Godsvallig”.
Aristoteles,
'n antieke Griekse filosoof sê dat “kairos” die tyd en spasie is waarbinne
bewyse van ingrype (in retoriek) plaasvind. Ons as Christene sou Aristoteles
kon verfyn, deur te sê “kairos” oomblikke is tye en spasies waar God Homself
aan die mens bewys, as die teenwoordige God. Ons almal het sulke Godsmomente
waar God helder en duidelik Homself openbaar. Sulke Godsmomente is gewoonlik
die groot en klein wonderwerke wat ons elke dag in ons lewe ervaar.
Die troos is
dat ons Jesus, dikwels sal vind werk op 'n spesifieke oomblik, spesifieke plek
en spesifieke omstandigheid. Wanneer al die faktore volmaak is, sal Jesus
ingryp. Daarom beteken die woord “kairos” (moderne en klassieke Grieks) ook
“weersomstandighede”.
'n
Spesifieke weersomstandigheid sal eers plaasvind wanneer al die faktore
daarvoor gunstig is. Nie verniet word die wederkoms van die Here verbind met
weerverskynsels nie. Die Here sal op die “kairos” moment, die volmaakte tydstip
sal Hy kom en die nuwe hemel en aarde vestig. Ons werk in die “chronos”. God
werk in die “kairos”. Daarom verstaan ons God aldag nie so reg nie. AMEN
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide)
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking