Woensdag 27 November 2013

Die "magic" van Kersfees .......

In die foto is die drie Botha seuntjies van Theuns en Eleanor Botha, wat hul verwonder oor ‘n kersvlam.  Met seuntjiesoë en kinderlike  opregtheid is hulle in ‘n ander wêreld van “magic”. Kersfees is ook ‘n tyd van verwondering en “magic”. ‘n Tyd om jou te verwonder aan die Lig van die wêreld.
Die eerste opdrag wat God gegee het is “Laat daar lig wees …” En daar was lig. So begin die Ou Testament. Die  Johannes Evangelie in die Nuwe Testament begin ook met die woorde: “Die ware lig wat elke mens verlig, was aan kom na die wêreld toe.” Insiggewend dat altwee die Testamante begin met die verwysing van lig. Die lig van die Ou Testament het skeiding gebring tussen dag en nag. Die Lig van die Nuwe Testament bring skeiding tussen hoop en wanhoop, tussen skuld en bevryding. Die Lig van die Nuwe Testament bring skeiding tussen regverdig en goddeloos. Die Lig is vir alle mense, om aan te neem. Hoe nader jy aan die lig lewe kom, hoe beter kan jy vir God en jou naaste sien. Hoe verder jy van die Lig lewe, hoe meer onsigbaar word God vir jou en later kan jy ook nie eers meer die gesig van jou naaste raaksien nie. Ons praat van ‘n Godsverduistering wat plaasvind, soortgelyk as ‘n sonsverduistering.
Hoe verder 'n mens aan die lig van die kers sit, hoe minder kan jy vir God en ander mense raaksien. Hoe nader jy aan Jesus Christus, die Lig van die wêreld leef, hoe meer sien jy God se werke in jou lewe raak. Jy sien dan ook skielik die gesig van jou naaste baie duidelik. Daarom is die oproep in 1 Johannes om naby aan die Lig te leef. Ja, om die Lig aan te neem ! Om as't ware die Lig te omhels.
In die begin van die Ou Testament lees ons van God wat die mens gemaak het na die beeld van God. Met ander woorde, die MENS LYK SOOS GOD. In Johannes 1 word gesê dat God  vlees geword het – Hy het soos die mens geword, behalwe in die sonde. Met ander woorde, die proses is nou omgekeer: dat GOD NOU LYK SOOS DIE MENS, behalwe in die sonde. Is dit nie Goddelike “magic” nie !
God het in Jesus Christus, soos die mens geword, die beeld van die mens aangeneem, sodat Hy met ons kan kommunikeer en ons kan help met ons daaglikse wanhoop, seer en hooploosheid. Hy het kom word die Lig van die wêreld. Goddelike “magic” !
'n Baie mooi verhaal om dit te illustreer is die volgende: Daar was eenmaal 'n ateïs, wat nie in God geglo het nie. Sy vrou was 'n gelowige. Hulle het in 'n klein dorpie gebly in die Switse Alpe.
Dit was ou Kersaand en dit het hewig gesneeu. Sy vrou het kerk toe gegaan, want dit was die gebruik om kersliedere te sing, die aand voor Kersfees. Hyself het egter verkies om by die huis te bly en sy aand voor die TV deur te bring. Skielik hoor hy 'n “plons” teen die ruit, en vir 'n tweede en derde keer. Toe kom hy agter dit is 'n trekvoëltjie wat verdwaal het en êrens 'n warm plekkie soek om te oornag. Hy gaan toe dadelik uit om die ou houtskuur se deur oop te maak. Met 'n gewaai van arms en die namaak van voëlgeluide probeer hy om die voëltjie in te lok in die skuur.
Nie eers voëlkos kan die voëltjie oorreed om die warm skuur in te gaan nie. Na 'n hele 10 minute se gesukkel, kom die wens by hom op om net vir 1 minuut soos die voëltjie te word, sodat hy die voëltjie die warm skuur kan binnelei. Op daardie oomblik lui die kerkklok. Net daar val hy op die sneeu neer en bid vir die eerste keer in sy lewe. Want toe hy die kerkklok hoor lui, besef hy vir die eerste keer waarom Christus na die wêreld gekom het en hoekom Hy kom mens word het. Hy het kom “mens word” met Kersfees om ons in die warm skuur van God se genade en liefde in te lei. Hy het kom word soos ons, behalwe in die sonde. Dit is die “magic” van Kersfees.
God het in Jesus Christus, soos die mens geword, die beeld van die mens aangeneem, sodat Hy met ons kan kommunikeer en ons kan help met ons daaglikse wanhoop, seer en hooploosheid. Hy het kom word die Lig van die wêreld. Goddelike “magic” ! 
Juis daarom moet ons die Kersfees die Lig laat skyn en dit nie onder 'n maatemmer verberg nie. Tereg sê Johannes 1: 4 dat Jesus die Lig is en dat selfs nie eers die duisternis dit kon uitdoof nie. As't ware skryf Johannes 'n bibliografie aangaande Jesus Christus en begin Hy as't ware sy Evangelie met die stelling ”en die duisternis kon dit nie uitdoof nie”, wat hy dan later in sy Evangelie bewys. Met Jesus se kruisiging het dit donker geword. Vir 'n tydperk het dit gelyk of die duisternis, die duiwel gaan wen.
Oor 'n tydperk van 3 dae was Jesus in die dood, asof in die hel, van God en mens verlaat. Maar op Paassondag met die breek van die eerste lig het Hy opgestaan uit die dood en lèèf Hy as die eerste Môrelig. Hy kom nooi ons as't ware om in die LIG te leef. In vers 12 praat Johannes van almal wat Hom aangeneem het, het Hy die reg gegee om kinders van God te wees. As't ware om kinders van die Lig te wees. Uit een kers kan jy miljoende kerse aansteek. Uit die opstanding van die een Lig, is die lig in miljoende gelowiges wêreldwyd aangesteek.
Jesus se lig is so helder, dat daar geen donkerte groot genoeg is om Sy lig uit te doof nie. Maak nie saak hoe donker jy 'n vertrek maak nie, daar sal nooit genoeg donkerte wees om die lig dood te maak nie. Die lig wen altyd die donkerte. Juis daarom moet ons lig en hoop bring in die wêreld wat ons leef. Jou kleinste daad van liefde en lig kan nooit ongedaan gemaak word nie.
Dit sneeubal voort in ander mense se lewe. So het Jesus se kruisdood en opstanding gesneeubal in miljoene mense se lewe. Daar is mos nie verniet aan Abraham beloof dat sy nageslag so baie sal wees soos die sterre aan die hemelruim of soos die sand van die see. In Christus Jesus het ons almal kinders van vader Abraham geword. So het die Lig na die hele wêreld gekom. Die wonder is dat ons die lig kan aangee na ander, deur self net die Lig te lewe.
Vers 16 sê aangrypend: “Uit sy oorvloed het ons almal genade op genade ontvang.” As'y ware kry ons rente op rente genade by die Here. Ons kry soveel genade, dit is soos 'n glas wat reeds vol water is en nog water kry. Dit loop oor !
Dit kos niks om die water te deel nie, want daar is reeds te veel water vir my. Juis daarom moet ons die oorvloedige genade van die Here aangee.
Somtyds is ons ongehoorsaam en dan “briek” ons hierdie oorvloedige genade van die Here.
Dit is soos om 'n windpomp te “briek”. In die Noord – Kaap waar ek die voorreg was om predikant te wees vir bykans 14 jaar, was 'n windpomp alledaagse woordgebruik. Om 'n windpomp te “briek” is om te keer dat dit nog water gee. Dikwels doof ons die “lig van die Evangelie” uit of ons “briek die oorvloedige genade van God” in ons eie lewe en ook in ander mense se lewe met wie ons in aanraking kom. So kan ons dikwels die Gees se werking teenstaan. Johannes 3 praat mos van die Gees se werking is soos “wind”. Jy kan die wind nie sien nie, maar jy sien werking van die wind. So kan jy God se Gees nie sien, maar jy kan die Gees se werking sien in jou en ander se lewe.
Om die Evangelie nie aan te neem (vers 11 en 12) is om “die windpomp te briek” Dan ontbreek dit jou aan die koel soet ondergrondse water, wat uit jou siel kan borrel. Maar boeta, die wind kan ook 'n windpomp se brieke afruk. Dan is daar geen keer aan die water nie. So het Saulus God ook “gebriek”, totdat God se Gees sy brieke afgeruk het op die pad van Damaskus. Toe was daar geen einde van lewende water in die lewe van Paulus. Wanneer God se Gees jou “brieke” afruk, dan verander jy sommer van naam ook – so ingrypend werk die Gees.
Wanneer die wind eers 'n vuur gevat het, kan niemand so 'n vuur keer nie. So het dit ook in die geskiedenis van al die groot geestelike herlewings gebeur. Dit steek die wêreld aan die brand. Daarom praat Johannes Calvyn nie verniet van die Christelike hart, as die “brandende hart” nie. Op Pinkstersondag het die Gees sommer in 'n oomblik, 3000 harte aan die brand gesteek met die ewige liefde.
Jesus is die Lig van die wêreld. Sy lig het die wêreld aan die brand gesteek. Sy Lig het onder ons kom woon en “kyk” ons kan sien ! Dit is die “magic” van Kersfees ….. ons kansien”.
Mag u die Kersfees, met kinderlike onskuld u verwonder aan die “magic” van Kersfees. Mag die “magic” u hele lewe verander.


Preekopsommings is ook beskikbaar by ngkerkadelaide@blogspot.com. U kan skriftelike opsommings van NG Kerk Adelaide se preke by kerkkantoor op 'n weeklikse basis aanvra.

SMS u kommentaar na 071 303 3700.

Woensdag 06 November 2013

NG Kerk Adelaide: GOD "RECYCLE" ......

NG Kerk Adelaide: GOD "RECYCLE" ......: GOD “RECYCLE” ……. Ons lewe in 'n wêreld, waar alles wat nie werk weggegooi word. Alles wat oud, opgebruik en nutteloos geword h...

Dinsdag 05 November 2013

GOD "RECYCLE" ......

GOD “RECYCLE” …….
Ons lewe in 'n wêreld, waar alles wat nie werk weggegooi word. Alles wat oud, opgebruik en nutteloos geword het gaan ashoop toe. In die antieke tyd, maar selfs nog vandag is onwelkome babas op ashope weggegooi vir die jakkalse om te eet. Daarom het Jesus Christus eenmaal op die ashoop buite Jerusalem , saam met die ongewenstes gesterf. Hy het gesterf vir almal wie se kleipot – bestaan in duie gestort het. Daarom is God altyd in die herwinningsbedryf. Hy “recycle” alles wat plat geval het en maak van hulle nuwe voorwerpe van Sy ontferming. Daarom al is ons kleipotte wat maklik breek, dra ons die seël van ons Maker, die groot Pottebakker van alle tye. Dit is goed dat ons maklik kan breek, want daardeur ken ons ons afhanklikheid van God.
In 'n wêreld waar mense dikwels onwelkom voel, is jy altyd welkom in God se vaderhuis. Sy deur staan altyd oop. Hy verwag altyd dat sy verlore seun moet terugkom. Wanneer ons op ons weerlooste is, soos die verlore seun, vind ons 'n genadige Vader. Maar ons weerbarstigheid moet eers omgesit word in weerloosheid. Wanneer ons nie verder kan nie, dan kan God werk. In jou mees weerlose tye is jy juis die bruikbaarste klei vir die Here. Wat hard is, moet eers sag word. Daarom is krisistye, die tye wat ons weer sag word, weer ontvanklik word vir die sagte werke en sagte hande van die Potterbakkers – Gees.

McLeod sê die volgende oor die kerk: “I simply argue that the cross should be raised in the centre of the marketplace as well as on the steeple of the church. I am recovering the claim that Jesus was not crucified in a cathedral between two candles, but on a cross between two thieves; on the town’s garbage heap., at the crossroad so cosmopolitan that they had to write His title in Hebrew and Latin and Greek …. At the kind of place where cynics talk smut, and thieves curse, and soldiers gamble. Because that is where He died. And that is what He died for. And that is what he died about. And that is where churchmen ought to be and what churchmen ought to be about.” 

Daarom is die taak van die kerk, om soos God op die ashope van die wêreld siele te soek en te red vir die Here. Op ‘n ashoop het Hy gesterf vir ashoop – mense. Hy “recycle” en maak nuut. Die nuwe moontlikhede vir die sondaar is legio. God se kinders kan nooit in ‘n doodloopstraat beland nie. God breek elke doodloopstraat oop en vul dit met nuwe moontlikhede.

 (Ds Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide)

Woensdag 02 Oktober 2013

NG Kerk Adelaide: Om in halleluja - tye en in klaagliedere - tye te ...

NG Kerk Adelaide: Om in halleluja - tye en in klaagliedere - tye te ...: Daar is baie soorte armoede in die wêreld soos hongerte , naaktheid , moedeloosheid, liggaamlike swakheid, siekte, psigiese armoede, ou...

Om in halleluja - tye en in klaagliedere - tye te volhard in die geloof !

Daar is baie soorte armoede in die wêreld soos hongerte, naaktheid, moedeloosheid, liggaamlike swakheid, siekte, psigiese armoede, ouderdom, eensaamheid, huisvestingsnood, sekuriteitsgebrek of doodeenvoudig net die armoede aan liefde. Armoede aan liefde, kan 'n mens beskryf as velhonger. Velhonger mense is mense wat net die begeerte het om iewers deur iemand aangeraak te word in liefde en deernis. Soos jy ouer word, slaan armoede oor ons almal toe. Ouderdomsplooie is die armoedekrake van jou liggaam. Soos jy ouer word, word jy bewus van hoe jy armer word aan kragte, gesondheid, lewenslus, geleenthede, materiële sekuriteite en vriende. Die fisiese dood is die finale kishou wat armoede vir almal slaan. Vir fisiese en emosionele armoede is daar baie raad. Vir fisiese armoede gee ons brood, sop, kleding, huisvesting, bou outehuise en weeshuise, stig studiebeurse en ontwikkel ontwikkelingsprogramme. Vir emosionele armoede skep ons ondersteuningsgroepe, en sosiale geleenthede om mense te ondersteun. Daarom moet ons baie simpatiek met alle soorte armoede omgaan, omdat dit ons almal op een of ander manier tref.

Die boek Hebreërs handel oor ‘n ander soort nood. Dit handel oor geloofsarmoede, geloofsnood, geloofsverlies, geloofsdroogte en geloofsuitputting. Hebreërs handel oor geloof ! Die Hebreërskrywer probeer nie om die geloof te skep in gelowiges nie. Nee, dit is geskryf om gelowiges wat reeds glo, te help om in die geloof te bly.

In elke mens se geloofslewe is daar hoogtepunte, laagtepunte, geloofsoasisse en woestyntye. Christus het ook hoogtepunte gehad, toe die Heilige Gees soos ‘n duif oor Hom neergedaal het, om net daarna homself in die woestyn van verlatenheid te vind. Op die berg van verheerliking het Hy saam met Moses en Elia verskyn. Om net later van mens en van God verlate te wees aan die kruis.

Geloof is ‘n stryd ! Hebreërs sê dit is ‘n marathon ! Geloof is nie maklik nie. Van mense wat in die geloof volhard word gepraat van geloofshelde. Daar word as’t ware gepraat van ‘n heldegalery van gelowiges genoem wat dit gemaak het.

Somtyds is dit maklik om te glo. Somtyds is dit baie moeilik om te glo. Ons gelese gedeelte verse 32 – 38 oorspan ‘n tyd van ongeveer 1000 jaar, vanaf die Rigtertydperk tot by die Makkabeërtydperk.
Vers 32 – 35  was ‘n tyd toe dit maklik was om te glo.
Vers 36 – 38 was ‘n tyd toe dit moeilik was om te glo
 
Vers 32 – 35 handel oor 'n tyd toe dit maklik was om te glo. Dit was 'n tydperk vol Hallelujah – ervarings.
 Heb 11:32  En wat sal ek nog meer sê? Want die tyd sal my ontbreek as ek van Gídeon, Barak en Simson en Jefta, Dawid en Samuel en die profete sou verhaal,
Heb 11:33  wat deur die geloof koninkryke oorweldig het, geregtigheid uitgeoefen, beloftes verkry, bekke van leeus toegestop,
Heb 11:34  die krag van vuur uitgeblus, die skerpte van die swaard ontvlug, krag uit swakheid ontvang het, dapper gewees het in die oorlog, leërs van vreemdes op die vlug gedryf het.
Heb 11:35  Vroue het hulle dode deur opstanding teruggekry, en ander is gefolter en wou geen bevryding aanneem nie, om ‘n beter opstanding te kan verkry.
So is daar in die gelowige se lewe besondere tye van gebedsverhoring en tye toe God Homself op baie spesiale maniere openbaar het. Dan is dit makliker om te glo. Dink bv aan die Slag van Bloedrivier en die 1994 eerste Suid – Afrikaanse Demokratiese Verkiesing toe alles vreedsaam verloop het.


Verse 36 – 38 handel oor 'n tyd toe dit moeilik was om te glo. Die lewe het soos vals note begin klink. Die lewe het sy melodie verloor. Dit is die Klaagliedere – ervarings van die lewe. Dit is die tye wat dinge skeef loop in jou lewe.
Heb 11:36  Ander weer het die proef van bespottinge en geselinge deurstaan, ook van boeie en gevangenis.
Heb 11:37  Hulle is gestenig, in stukke gesaag, versoek, deur die swaard vermoor. Hulle het rondgeloop in skaapvelle en in bokvelle; hulle het gebrek gely, hulle is verdruk, mishandel—
Heb 11:38  die wêreld was hulle nie werd niehulle het in woestyne rondgedwaal en op berge en in spelonke en skeure in die grond.
Dit is die tye wat jy jy skaars meer 'n noot oor het.
Die lewe het sy sin en betekenis vir jou verloor. Jy sit op moedverloor se vlak. Jy bid, maar jy voel jy bid teen 'n muur vas. God voel vir jou baie ver ! Jy begin aan God se bestaan twyfel. God maak nie meer vir jou sin nie. Jy voel skuldig, omdat jy voel jy het jou geloof verloor. Jy voel verlore.
Die goeie nuus is dat God verstaan as ons somtyds twyfel. Hy wil ons help in ons twyfel soos Hy vir Johannes die Doper en vir die twyfelende Thomas gehelp het. Johannes die Doper het gewonder in die tronk, of hy die regte Messias en Gesalfte gedoop het. Daarom vra hy die vraag of Jesus die regte Gesalfte is of moet ons iemand anders verwag. Dan versterk die Here hom met die versekering dat hy moet kyk na al die wondertekens wat plaasvind. Die twyfelende Thomas het gewonder of Jesus regtig opgestaan het. Dan help Jesus hom, deur hom te laat vat aan sy wonde, om hom te oortuig. Woestynervarings in die geloof tref die meeste van die gelowiges en heiliges.
Dit is koud en donker.   
Dit is leeg en dood.
Kaste dood, leeg  soos skedelgate
Dit is winternag daarbuite.
Winter in my siel.
Eensaamheidvlak
Geen vuur, geen lig, geen bron van hoop
My geloof is koud
My siel eensaam – soos die graf
(Anoniem)

Om met God te worstel, is van die mees diepste en intense ervarings waaraan 'n mens blootgestel kan word. Jakob het by die Jabok met God ook geworstel. In die proses het hy mank geword, maar hy het God gevind, of moet ons liewer sê God het hom gevind.

Maar hoe kan ons geloofsarmoede weer omsit in geloofsrykdom en geloofsgroei? Ons teksgedeelte gee vir ons die antwoord baie duidelik:
1. Vestig julle oog op Jesus Christus en nie op julle eie geloof nie.
2. Laat julle versterk, deur die getuienis van medegelowiges en die onderlinge koinonia (gemeenskap van gelowiges)
Heb 12:1  Daarom dan, terwyl ons so ‘n groot wolk van getuies rondom ons het (2 hierbo), laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê,
Heb 12:2  die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof (1 hierbo), wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het.
Die Here wil ons veral ook deur die gemeenskap van gelowiges, soos in die tyd van Hebreërs versterk. Daarom is die onderlinge getuienis van hoe God in medegelowiges se lewe werk van groot belang. Let op wat sê Heb 10: 23 – 25 oor die gemeenskap van gelowiges. (Let op na die beklemtoning in die teks).
Heb 10:23  Laat ons die belydenis van die hoop onwankelbaar vashou, want Hy wat dit beloof het, is getrou; Heb 10:24  en laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor; Heb 10:25  en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.
Let ook op na die onderstreping, van hoe belangrik God die samekoms van die gemeente ag. Godsdiens is nie maar net 'n privaat geleentheid voor die radio of TV nie. Nee, dit is 'n publieke samekoms van God se gemeente. So wil God dit hê. Wanneer kole los van die vuur lê word dit gou koud. Maar tussen die ander kole bly dit warm.
Newbegin skryf dat Jesus nie 'n boek geskryf het nie. Nee, Hy het dit oorgelaat aan die apostels om Evangelies en briewe te skryf. Jesus het eerder “a Community” gevestig – so belangrik ag Jesus die kerk en die samekoms van gelowiges. Geloof is om te belê in die onsienlike.
Dit is soos 'n brug in mistige weer. Jy kan nie sien of die brug anderkant weer grond raak nie. Maar jou vorige ervarings en die beweging van die verkeer (medegelowiges) laat jou genoeg vertrou om oor die brug te ry, na die onsienlike anderkant.
Daarom moedig die Hebreërskrywer ons aan, om al word ons armer in fisiese dinge, ons ryker moet word in geestelike dinge. Liggaam en gees, daaruit bestaan die mens. Die liggaam kwyn met ouderdom, maar die geestelike groei soos ons ouer word. Wie geestelik groei, groei in sy/haar geloof. Juis daarom moet ons klem lê op die geestelike onsienlike, aldus die Hebreër skrywer.
 VRAE VIR OORPEINSING:
    1. Dink na oor die Halleluja en Klaagliedere – ervarings in jou lewe ? Hoe het dit jou geloof beïnvloed ?
    2. Dink aan praktiese maniere hoe 'n mens in jou geloofslewe gevorm kan word, tot geestelike rykdom ?

BRONNELYS:
Newbegin, L.1978.The Open Secret: An introduction to the theology of Mission. Eerdsmans: SPCK.
Orsmond, E & Botha, J. 2012. Woord en Fees: Preekstudies en liturgiese voorstelle,
gebaseer op kerkjaar C. Communitas: Matieland